oorsig van
BEYOND DIPLOMACY
deur Heinrich Matthee
Heinrich Matthee (senior lektor en navorser, Hanze Universiteit, Groningen, Holland, en ook buitengewone professor, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom)
Riaan Eksteen. 2022. Beyond Diplomacy: My life of remarkable transitions and the moments that made the difference. Protea-Uitgewers: Pretoria.
Riaan (Koedoe) Eksteen se lewensverhaal speel af oor meer as vyf dekades in Suid-Afrika se openbare domein. Hy het as jong diplomaat begin werk tydens die bewind van Hendrik Verwoerd en onder John Vorster, P.W. Botha, F.W. de Klerk en Nelson Mandela in verskeie lande en by die Verenigde Nasies in New York en Genéve as ambassadeur gedien. Hy was ook direkteur-generaal van die Suid-Afrikaanse Uitsaai-Korporasie (SAUK) en is deesdae akademies aktief en ‘n politieke konsultant.
Eksteen dui in Beyond Diplomacy die doel van sy memoir aan. Hy wil daarin oor sommige van die gebeure wat hy van digby beleef het of waarby hy betrokke was reflekteer. Die boek gee dus nie sy lewensuitkyk, sy loopbane of ’n historiese oorsig in besonderhede weer nie.
Die boek stel wel ’n baie waardevolle bron oor Suid-Afrika se diplomatieke geskiedenis daar. Die historikus Jamie Miller het reeds aangedui dat sulke bronne nie vanselfsprekend is nie, ook weens die metodes van rekordhouding, geheimhouding en die vernietiging van rekords tydens die Nasionale Party (NP) se laaste bewindsjare.
Suidwes-Afrika/Namibië
Onder Hendrik Verwoerd (1958-1966) was Suid-Afrika se republiekwording, apartheidhervormings soos tuislande, dekolonisasie en bande met Afrika-state, en alliansies in die Koue Oorlog polities gekoppel. Eksteen bevestig dat Verwoerd ’n aktiewe rol in buitelandse betrekkinge gespeel het.
’n Goue draad deur Eksteen se diplomatieke loopbaan is sy betrokkenheid by Suid-Afrika se hantering van Suidwes-Afrika (SWA, later Namibië) en die verinternasionalisering daarvan. Eksteen lig die sluier oor hierdie proses. Hy bespreek die hofsaak by die Internasionale Geregshof in 1963-1966, toe hy steundienste moes lewer aan Pik Botha, na 1977 die minister van buitelandse sake. Hy vertel hoe Suid-Afrika voor die regters se gunstige uitspraak die teks daarvan in die hande gekry het.
Eksteen moes vir dekades werk terwyl die internasionale druk op Suid-Afrika toegeneem het. In sy dertigerjare was Eksteen ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN). Hy beskryf hoe sy verhouding met Kurt Waldheim, destyds die VN se Sekretaris-Generaal, verbeter het nadat hy dit duidelik gemaak het dat die Namibiese vraagstuk nie sonder Suid-Afrika se medewerking opgelos kon word nie.
Hoewel Suid-Afrika ’n lidstaat was, het die VN se Algemene Vergadering egter partydig opgetree ten gunste van SWAPO (South West African People’s Organisation) en die African National Congress (ANC). Eksteen is weens die verwerping van Suid-Afrika se geloofsbriewe drie keer uit die Algemene Vergadering gesit. Dikwels het dit met voorbladfotos in The New York Times gepaard gegaan.
Die VN-Veiligheidsraad se Resolusie 435 (1978) oor Namibië het net op magsoordrag en verkiesings gefokus. Eksteen het egter tydens die Amerikaanse president Ronald Reagan se bewind ’n vertrouensverhouding met Chester Crocker, die Amerikaanse onder-sekretaris van buitelandse sake belas met Afrika, en sy span gevestig. Die diplomate kon dit regkry om die gemeenskaplike belange tussen hulle te identifiseer, die politieke speelveld meer gelyk te kry en grondwetlike beginsels vas te lê in die aanloop na Namibië se onafhanklikheidwording.
Deténte, intelligensie en die weermag
Eksteen se diplomatieke werk het die vertroue van John Vorster (1966-1978) en later van P.W. Botha (1978-1989) gewen. Hy het ’n rol gespeel om Vorster se deténte-beleid met die Liberiese president William Tolbert uit te voer, en vertel hoe hy die ys met Afrika-diplomate kon breek. In baie state se ambassades is daar komplekse verhoudings tussen diplomate en die verteenwoordigers van die intelligensiedienste daar, en hy skryf oor sy goeie en minder goeie ervarings.
’n Deurlopende tema is Eksteen se afkeer van die militarisering van buitelandse beleid. Reeds onder Vorster, het P.W. Botha as minister van verdediging daarmee na vore getree. Die SA Weermag (SAW) se operasies in Angola in 1975 het plaasgevind met beloftes van steun deur die Amerikaanse CIA. Daardie steun is later deur die Amerikaanse Senaat gestop en die SAW moes blosend onttrek. Eksteen se oordeel is dat PW Botha en sy adviseurs blind was vir tekens wat hulle inskattings weerspreek en mense wat van hulle verskil geïgnoreer het.
Latere pogings van Afdeling Militere Inligting in Suid-Afrika om die VSA se beleid deur operasies te beïnvloed, het volgens hom telkens die moeisaam opgeboude vertroue vernietig of struikelblokke geskep wat diplomate moes oorkom. Sommige sekurokrate, soos die historikus Stephen Ellis aandui, het weer Pik Botha se nou bande met die VSA wantrou. Nietemin dra Eksteen se oordeel gewig. Eksteen erken die sukses van latere SAW-operasies in Angola maar vra of dit die prys werd was. Daardie debat se einde is nie naastenby in sig nie, ook nie onder diegene wat militêre diens verrig het nie.
Suid-Afrikaanse Uitsaai-Korporasie (SAUK)
Eksteen was van 1983 tot 1988 die SAUK se direkteur-generaal. Die SAUK was finansieël onder baie druk, terwyl Suid-Afrika groot politieke verdeeldheid en onrus beleef het. Eksteen het die SAUK herstruktureer in meer lewensvatbare sake-eenhede en moreel en produktiwiteit probeer verbeter. Hy het ’n versiende transaksie met M-Net gesluit wat later baie winsgewend sou kon wees, maar wat deur Brand Fourie as voorsitter van die SAUK-Raad gekelder is.
P.W. Botha en later sy vrou Elize Botha het Eksteen telkens gebel as hulle ontevrede was oor TV-uitsendings. Dit was waarskynlik onaangenaam, maar Eksteen se vertellings daaroor is humor uit die boonste rakke. Botha se druk op die SAUK-raad en salamitaktiek het sy posisie uiteindelik verswak en hy het in 1988 vrywillig die SAUK verlaat. Daar was allerlei insinuasies dat hy nie die SAUK se swak finansiële posisie kon verbeter nie.
Sakemedia en akademici het later bevind dat hy in werklikheid die SAUK op ’n veel stewiger grondslag geplaas het. F.W. de Klerk (1989-1994) het Eksteen in 1990 as die eerste ambassadeur in ‘n onafhanklike Namibië aangestel en genoem: “Met hierdie besluit is die onregverdigheid wat hy gely het nou omgekeer.”
Twee ordes
Die historikus Hermann Giliomee verwys na twee rewolusies in Suid-Afrika in die twintigste eeu: die apartheidsbeleid van die NP met sy doel om Afrikaner-mag en oorlewing na 1948 te verseker, en die ongeëwenaarde oorhandiging van mag aan die ANC deur ’n leiersgroep wat nóg verslaan nóg bankrot was. Eksteen het onder die magshebbers van beide ordes gedien, ook tydens die oorgangstydperk 1990-1994. In die eerste orde, moes hy Suid-Afrika se beleid internasionaal verduidelik. In die oorgang na die tweede orde en daarna, voer hy aan, kon hy die beleid ook regverdig en verdedig.
In Oktober 1991 het Pik Botha vir Eksteen meegedeel dat Mandela hom as ambassadeur by die VN aangestel wou hê. Mandela het gevoel dat die fokus voortaan sou wees om daar hulp van die VN se spesialisagentskappe vir sosio-ekonomiese ontwikkeling te kry. Botha het bereken dat dit nog twee tot drie jaar sou duur voor die ANC aan die mag sou wees, en Eksteen aangeraai om nie nee te sê vir sy toekomstige staatshoof nie. In 1994, toe die ANC aan bewind kom, was Eksteen, wat voorheen soveel stormbranders by die VN in New York moes trotseer, die ambassadeur by die VN in Genéve.
Padwysers
Beyond Diplomacy gee blyke van ’n soortgelyke professionele benadering by Eksteen in beide politieke ordes. Hy wou nie as ’n regerings-apologeet beskou word nie, maar as ’n geloofwaardige en betroubare diplomaat vir sy land. Netwerkaktiwiteite was immer-belangrik, ook met diplomate van lande wat as teenstanders beskou is. Aan kritiek moes mens jou nie persoonlik steur nie, maar dit distilleer wat positief gebruik kon word.
Die internasionale toneel was duidelik meer verwikkeld en met meer geostrategiese oorwegings en gevolge as wat leidende politici of hulle kiersers in verre Suid-Afrika noodwendig begryp het. Diplomate moes ook adviseurs vir hulle regerings wees en soms moeilike besluite neem in die landsbelang sonder om noodwendig instruksies daaroor te kry. Die “Beste Kollega”- briewe wat Eksteen aan Pik Botha voorgestel het om kabinetslede in te lig, bly ’n skaars skatkis van rekords oor gebeure.
Na sy diplomatieke loopbaan het Eksteen politieke konsultasie vir bedrywe uit alle wêrelddele verrig. Eksteen het vroeg opgemerk watter invloed die regbank, naas die uitvoerende en wetgewende gesag, op buitelandse beleid kon uitoefen. Die bestaande politieke wetenskapliteratuur het hierdie invloed nie goed geïdentifiseer nie. Eksteen se doktorsgraad wat hy kort voor sy 76ste verjaardag in 2018 behaal het, vul die gaping.
Persoonlikheid
Die veelsydige Eksteen kon oor dekades ’n wye diplomatieke netwerk en ook ’n groot kring van welwillendes en vriende opbou. Vriendskap en vertrouelinge bemagtig politieke prosesse en aksies en bevorder sekere waardes, al is dit soms moeilik om die presiese spore daarvan aan te dui. Terselfdertyd moes Eksteen in moeilike tye ook sommige vriende se stilswye in plaas van steun meemaak. Uit sy lewensverhaal blyk ’n waardering vir opregtheid, koel deurdagtheid, standvastigheid onder druk, en die skeppende aanpak van probleme.
Helmut Schmidt, die Duitse Bondskanselier, en Henry Kissinger, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, kom na al hulle praktiese ervarings tot dieselfde gevolgtrekking: Belange en magstrukture weeg swaar in internasionale betrekkinge, maar persoonlikhede maak ’n verskil. Wie Beyond Diplomacy aandagtig lees, sal met ’n nuwe blik na een van Suid-Afrika se topdiplomate kyk.