Onderhoud, Plus50,
Desember 2022-Januarie 2023, bls. 15 en 16
“’n Mens moet tot die aand wag om te sien hoe uitmuntend die dag was.” Só haal Riaan Eksteen Sofokles aan in die slot van sy boek wat pas verskyn het. Renée Rautenbach Conradie het met hom gesels.
Om saam te val met sy 80ste verjaardag is Beyond Diplomacy, Riaan Eksteen se outobiografie, in Oktober deur Protea uitgegee. Eksteen sê dat dit vir hom nou kort voor sonsondergang is, maar dat die dag inderdaad uitmuntend was.
Dié “dag” waarop hy in dié boek terugkyk strek oor ses dekades en was ryklik gevul: as prominente diplomaat, gerekende internasionale onderhandelaar en konsultant, bestuurshoof van die destydse SAUK en meer onlangs as akademikus. Hy het noodwendig hoog gevlieg en was dikwels na aan die brandpunt en besluitneming van Suid-Afrika se buitelandse beleid en het hier en ook op ander terreine, met groot figure en geeste te make gehad – soos die titel tereg aandui.
Koedoe, soos hy by sy vriende bekend staan, se wakker ingesteldheid en sy skerp geheue maak vir wonderlike en ongewone vertellings – vandat hy as junior amptenaar by die Wêreldhof in Den Haag beland het, as die jongste ambassadeur (op 37) by die Verenigde Nasies in New York aangestel is, onder vyf staatshoofde gedien en in poste in Washington, New York, Genève en Ankara en ook Windhoek was, en ook vooraf by die onafhanklikheidswording van Namibië betrokke was, sy doktorsgraad op 76 voltooi het tot by die publikasie van hierdie boeiende boek. Inderdaad ʼn uitmuntende lewe om op terug te kyk.
Ons gesels terwyl hy vir die bekendstelling op besoek was aan Pretoria, sy grootworddorp.
“Ek is in Volksrust gebore, maar toe ek 18 maande oud was, het my ouers na Pretoria verhuis waar my vader besighede geopen en bedryf het.” Laerskole was Villieria en Totiusdal (Waverley) en Hoërskool Oos-Moot. Aan UP het hy ʼn BA-graad met Duits, Romeins-Hollandse Reg en Staatsleer as hoofvakke behaal waarna hy in 1964 by die departement van buitelandse sake begin werk het.
‘Vriende is my lewensbloed’
In die voorwoord van die boek skryf Ton Vosloo dat hulle mekaar juis in daardie jaar ontmoet het en oor die jare heen ʼn hegte vriendskap behou het en steeds het. “Vriende is my lewensbloed. Ek kan nie sonder hulle klaarkom nie,” sê Riaan oor wat vriendskap vir hom beteken.
Hy gesels oor mense wat hy op professionele vlak ontmoet het en met wie hy vriende was of nog is. Mense soos minister Pik Botha, Ton Vosloo, die Amerikaner Chet Crocker, Dan Kriek wat hom geïnspireer het om die boek te skryf, emeritus-professor Deon Geldenhuys, Frans Stroebel en Pieter Cronjé en nog vele wat hom deur die jare ondersteun het.
Riaan Eksteen het ʼn besondere vriend in prof. Johan Heyns gehad wat begin het toe hy direkteur-generaal van die SAUK van 1983 tot 1988 was.
“Ek het geen vertroue in die SAUK se kerklike advieskomitee óf die raadslede gehad om my van die regte leiding te voorsien oor hoe kerklike aangeleenthede hanteer behoort te word nie. Eenogige sienings en sektorale belange was aan die orde van die dag en dit het my gegrief. In Johan Heyns wat toe moderator van die algemene sinode van die NG Kerk was, het ek antwoorde gekry. Hy het my kompas geword wat godsdienstige sake betref. Deur die jare by die SAUK het ek baie Vrydagmiddae saam met hom in sy studeerkamer deurgebring – dieselfde plek waar hy gesit het toe hy die aand van 5 November 1994 vermoor is.
“Ek het teenoor hom gebieg dat ek dit moreel absurd vind om die Apostoliese Geloofsending geleenthede te ontsê om hul dienste op radio uit te saai – ʼn beleid wat die advieskomitee toe reeds etlike jare getrou toegepas het.” Die AGS het geleenthede begin kry om ook dienste uit te saai. “Snaaks, die hemele het nooit op ons ineengestort nie!”
Televisiesport op Sondae was nog ʼn netelige kwessie waarmee hy te doene gehad het. “Ek kon dit nie op my eie doen nie. Johan se wenke hieroor het my gerig. Sy begrip het diep gestrek en ons gesprekke was amper soos dié van vader en seun. Ek het sy interaksies met my baie waardeer, en dit byna vertroostend gevind.”
Grootse indruk
Op die vraag wie die grootste indruk op hom gemaak het, is hy gou om te antwoord. “Henry Kissinger. En die pous. As ek my oë toemaak, dan sien ek die wonderlike uitdrukking in sy oë.” Dit was Pous Johannes Paulus II wat hy in 1979 in New York ontmoet het. Vir Kissinger het hy ʼn paar keer ontmoet, maar wat uitstaan was die reis van drie dae om hom en sy vrou, Nancy, na Etosha te vergesel.
Riaan en sy vrou, Ria, woon die afgelope 14 jaar permanent op Swakopmund. Maar sy persoonlike en professionele verbintenis met Namibië strek oor baie dekades.
“My verbintenis met Namibië is eerstens met my familie verweef en strek byna 97 jaar terug. In 1925 het my pa van Newcastle in Natal na Otjiwarongo gekom om ʼn winkelassistent te wees. In 1929 het my ouers in daardie dorp getrou. ʼn Jaar later is my ouer broer in Windhoek gebore. Van 1931 tot 1934 het hulle die winkel en hotel bestuur wat hulle in Warmbad, naby die Suid-Afrikaanse grens, besit het. Vandaar het hulle na Volksrust getrek. Vandag boer familie aan my ma se kant nog in Namibië – die vierde geslag.
Skryf in ʼn tyd van Covid-19
“Ek het ook baie besoeke tydens my ampstermyn by buitelandse sake daar afgelê en met baie persone op verskeie lewensvlakke en -bedrywighede bevriend geraak. Oor die afgelope 20 jaar het ek en Ria ten volle geïntegreer geraak in die Namibiese samelewing en veral dié van Swakopmund.”
Soos in enige gesprek duik die beperkende tye van Covid-19 op: “Die spanning wat die koronavirus op lewens geplaas het, was geweldig. Die weke, maande en byna jare was ʼn uitdaging vir ieder een.
“Toe die impak van Covid-19 en die inperkingsreëls tot my en Ria deurgedring het, het ons ʼn vasberade poging aangewend om nie toe te laat dat al die maatreëls ons lewenstyl inperk en ons tot ʼn ongemaklike manier van lewe dwing nie. Die grootste seën wat ons ontvang het, was dat ons nooit die virus opgedoen het nie.
“Dit was ook ʼn tyd wat ons in staat gestel het om uit te reik na vriende en familie – deur middel van moderne tegnologie. Ek wonder soms of daar genoeg nagedink is oor die positiewe rol wat WhatsApp gespeel het om mense naby mekaar te hou tydens daardie moeilike tye. Ewe belangrik was die tyd wat beskikbaar was om dit waarvoor ons voorheen min of geen tyd gehad het nie na te streef. Om meer musiek te luister wat inspireer en wat dan die gesegde van die Duitse digter Berthold Auerbach in 1875 herbevestig dat musiek die stof van die alledaagse lewe van die siel verwyder.”
Van voor die pandemie was Eksteen besonder produktief. In 2016 het ʼn nuwe veld in die akademiese wêreld vir hom oopgegaan waarby hy steeds betrokke is. “Ek het eers ʼn doktorale tesis binne 16 maande geskryf en daarna my boek The Role of the Highest Courts of the United States of America and South Africa, and the European Court of Justice in Foreign Affairs wat op die tesis gebaseer is, in Europa gepubliseer. In Mei 2019 het ek senior navorsingsgenoot in die departement van politiek en internasionale betrekkinge van die Universiteit van Johannesburg geword, en later daardie jaar het ek twee lesings in Europa en die VSA by kongresse gelewer.”
In Junie 2022 is Eksteen as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns benoem.
‘Geloof is deel van my DNS’
Geloof was nog altyd van groot belang in sy lewe. “Ek kan nie sonder geloof en godsdiens klaarkom nie. Ek wil byna sê dat dit deel van my DNS is. Ek weet waar my krag vandaan kom. Wanneer ek donker dae beleef het – en daar was baie van hulle – het een besonderse teksgedeelte altyd deur my kop gemaal en my rigting en moed gegee. Dis waar Habakuk in hoofstuk 3 skryf dat al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerd wees nie, sal ek jubel en juig in my God en my Redder wat my voete maak soos dié van ʼn ribbok waar Hy my op hoë plekke veilig laat loop.”
Hoe wil Eksteen hê sy drie seuns, hul gesinne en sy nege kleinkinders moet hom onthou?
“Aan geen besondere optrede of moontlike prestasie nie. Al wat ek wil hê is dat hulle moet weet en onthou dat ek elke dag vir elkeen gebid het.”